Hy is getroud met Sandra en hulle is ‘n gesin van vier, met ‘n 24-jarige seun en 17-jarige dogter. Na sy twee jaar diensplig het hy die kaal vlaktes van die Vrystaat vir ‘n berg by die see verruil en aan die destydse Kaapse Technikon studeer, waarna hy ook vir 23 jaar betrokke was in oogkundige praktyke en groothandel, in Suid Afrika en Engeland. In 2012, snoer hy en vroulief Sandra kragte saam en bou ‘n paar besighede op, onder andere ‘n wassery, restaurant en ‘n chemiese verspreidingsmaatskappy. Hy was ook betrokke by verskeie diensorganisasies (sowel as bestuurslid), o.a. Tafelronde, Rotariërs, ATKV en Wellington Sakekamer.
Sy eerste ontmoeting met Sunfield Home se inwoners was rondom 2009, toe ‘n vorige klinieksuster van Sunfield Home inwoners na die oogkundige praktyk waar hy werksaam was, gebring het vir bekostigbare oogsorg. Vandaar het hy gereeld fondsinsamelingsaktiwiteite bygewoon, pretlope gestap en selfs tydens ‘n valentynsaand sy sokkies deurgedans. In 2020 het hy en sy vrou, Sandra, besluit om nog meer betrokke te raak, deur Sunfield Shoppe op die been te bring om ‘n ekstra inkomste vir Sunfield te skep. Sunfield Shoppe verkoop tans tweedehandse geskenkte klere, kombuisware, boeke ensovoorts in Wellington.
Dit sal onregverdig wees om enkele hoogtepunte uit te lig, want elke interaksie met Sunfield Home se inwoners is ‘n hoogtepunt op sy eie vir Chris en Sandra. Die bladskud hier, die drukkie daar, elkeen se geselsie, die inwoner wat klokslag weekliks vir jou ‘n WhatsApp stuur en die kinderlike meelewing is almal hoogtepunte wat sy lewe verryk.
Chris vertel sy visie en droom vir Sunfield Home is tweeledig:
- Eerstens, om Sunfield Home so bekend te maak dat elke individu of maatskappy oor hulle voete sal val om ons op enige denkbare wyse te help en die finansiële las van inwoners se familielede te verlig.
- Tweedens, dat elke inwoner te alle tye gelukkig sal wees en dat daar genoeg personeel en aktiwiteite sal wees om hulle deurgaans te stimuleer.
“Om te kan terugploeg in ‘n organisasie, waar ‘n mens die inwoners se vriendelikheid en dankbaarheid ervaar is die grootste beloning denkbaar en ek besef hoe bevoorreg ek is om met sulke fantastiese gawes van God interaksie te kan hê.”
Chris is dit eens dat intellektueel gestremde mense ook asems van hierdie planeet is en oor ‘n ongekompliseerde bestaansreg vergeleke met jou deursneë mens beskik. Die eerlikheid, opregtheid en liefde wat jy by intellektueel gestremdes kry, is ongelooflik. Almal betrokke by Sunfield Home, of ander intellektueel gestremde sentrums, behoort ambassadeurs te wees deur die publiek betrokke te maak by ‘n interaksie met die sentrum, of ernstige bemarking en blootstelling aan Sunfield Home te gee. Só kan die persepsie rondom intellektueel gestremdes gou verander word.
Chris vertel dat hy al ‘n swaer en ‘n skoonsus gehad wat albei intellektueel gestrem is. Hierdie engele, wat die voordeel en voorreg het om deel van ‘n liefdevolle familie te wees, motiveer hom om net soveel, indien nie meer, aan andere te gee wat nie in dieselfde bootjie is of kan wees nie.
As jy kyk na elke inwoner by Sunfield Home se gesig, vra jouself: “Het ek regtig ekstra motivering nodig?”