Deur Ursula Morris
Vrydag, die 6de Junie, het uiteindelik aangebreek en ons tien bevoorregte Sunfield verteenwoordigers vertrek met die Sunfield Home bussie om by Alta du Toit Sentrum te gaan besoek aflê. Ons was opgewonde en met Rocco as bestuurder het ons daar veilig en betyds opgedaag. “Moeder” Zelda het ons almal gelukkig gehou saam met Tannie Pat se sonskyn geselskap, want hulle ken elke Sunfielder se hart.
Met aankoms by Alta Du Toit Sentrum het Bianca Evert, Werkswinkelbestuurder, en Annica Blair, Bestuurder, ons hartlik ingewag en verwelkom. Ons is getrakteer met lekker warm koffie, tee en warm sjokolade. Ons het belangstellende vrae gevra oor hulle werkswinkel funksies, bestuurstyl en hantering van spesiale uitdagings. Alta Du Toit is al vir baie jare ‘n bekende, suksesvolle fasiliteit.
Ons het drie afdelings besoek asook ingeloer by die onlangs geopende koffiewinkel, Die Alta Sjiek.
Casa Mia bied ‘n rustige werksopset. Die netheid en hartlike benadering van die personeel was opmerklik. Daarna het ons die Weefafdeling gaan besoek. Tannie Claudine was so bly om ons te verwelkom. Sy het ons bedien met weef inligting. Die atmosfeer was gemaklik en rustig. Ons kon die skepping van pragtige items wat op verskeie rame in wording is waarneem, en ons is bederf met twee geskenkitems om terug te neem na ons sentrum.
Met groot entoesiasme is ons na die groot werkswinkel waar verskeie inwoners ons hartlik verwelkom het en met blyskap sekere van ons mense herken het. Daar was verwys na die “Bocce” sportdag wat hulle by ons bygewoon het en hulle wil graag weer by ons kom kuier. Die groot werkswinkel se werkers was besig met verskeie kontrakwerk en hulle lyk na toe gewyde en lojale werkers.
Daarna is ons na die Alta Sjiek winkel. Dit was pragtig uiteengesit en bestaan uit tweedehandse klere en items met ‘n koffiewinkel. Twee pragtige kelners het gereed staan om kliënte te bedien, maar tyd het ons genoop om te vertrek.
Ons was so beïndruk en sal nog lank hierdie besoek onthou. Natuurlik was ons honger en het ‘n lekker middag- happie by KFC gaan geniet, danksy Fiona en Sunfield wat dit geborg het.
Op pad terug het Rocco en Zelda ons na nog ‘n bederf besoek geneem. Dit was die opening van Huis Horison se koffiewinkel in Stellenbosch. Daar aangekom het ons na die mooi area in Stellenbosch gekyk en die uitleg van hulle besigheid. Die plante afdak buite het my oog gevang. Wens ons kon langer kuier, maar toe was die dag om en ons moes huiswaarts keer.
Ons inwoners wat saamgegaan het, het hulle uitstekend gedra en was ware Sunfield Home verteenwoordigers. Ons is baie trots op hulle. Dankie vir die uitsonderlike geleenheid om dit te kon meemaak.
- Riaan
- Elizabeth
- Charles
- Andrew
- Ankia
- Jacques
- Zelda
- Rocco
- Tannie Pat
Ursula Morris/Jacques Steyn se ma)