021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Sy lewenspad het hom in 1969 deur militêre opleiding op Oudtshoorn geneem, daarna die Leërgimnasium en later na die Kommando Krygskool op Kimberley waar hy as instrukteur gedien het. Gedurende die bosoorlog suid van die Angolese grens het hy in 1977 vir 4 maande aktiewe diens gedoen. Hierdie tyd het ‘n diep indruk op hom gelaat. “Jy mag die oorlog verlaat, maar die oorlog verlaat jou nooit nie. Jou vermoë om bang te wees verdwyn, maar dit neem tyd om daarmee saam te leef.”

Maak kennis met Sarel van der Merwe, direkteur van Sunfield Home.

Sarel is ‘n Bellville-boorling wat in 1968 gematrikuleer het by DF Malan. Na sy militêre diens het hy verder gestudeer in Chemie, Fisika en Wiskunde. Hy het in ‘n laboratorium by Mobil Olie gewerk en was betrokke by die toets en ontwikkeling van smeermiddels en nuwe tipe padoppervlaktes. Later was hy hoof van die Wetenskapafdeling by Phillips Internasionaal in die Wes-Kaap en het daarna ook ‘n vennootskap in ‘n privaat maatskappy aanvaar wat gespesialiseer het in hoë tegnologie elektroniese wetenskaplike aperatuur.

Die wending van Down Sindroom
Toe hy en sy vrou swanger word, was daar geen aanduiding van die risiko van gestremdheid nie. Die aand van hul seun, Deon, se geboorte het hulle met ‘n skok uitgevind dat hul kind Down Sindroom het. Hulle het besef dat hul lewens sou verander. Gestremdheid sou voortaan hul deel wees.

“Jy is deurmekaar, die mat is onder jou uitgeruk, jy sukkel om logies te dink, jou toekomsplanne is daarmee heen en dit neem jou ‘n lang ruk om tot verhaal te kom.”

Sarel moes dit leer aanvaar, maar terselfdertyd moes hy ook planne maak vir die nuwe realiteit wat voorlê en hy het vasbeslote besluit om ‘n verskil te maak en betrokke te raak by organisasies wat sorg en voorsiening maak vir gestremde individue.
Na Deon se geboorte het hul besef dat een van hulle hul loopbaan op daardie stadium moes opsy skuif. Sarel sou hierdie rol opneem en ‘n loopbaan begin wat hom meer vrye tyd sou gee om na Deon om te sien. Sy vrou, Elizabeth, is vandag Emeritus Professor by die Universiteit Kaapstad se Mediese Fakulteit.

‘n Nuwe Doel

In 1985 het Sarel ‘n beheerraadslid geword van die Downsindroom Vereniging in die Wes-Kaap, en in die jare 1987-1988 het hy die eer gehad om as Voorsitter te dien. Soos Deon ouer geword het, het Sarel later ‘n beheerraadslid van die Bel Porto-skool geword, vanaf 1991 tot 2001, en hy het ook die rol van Voorsitter opgeneem vanaf 1994 tot 2001.
Na Deon se skoolloopbaan het hy by Oasis Association se werkswinkels gewerk, waar Sarel ook ‘n beheerraadslid was, en verskeie termyne as Voorsitter gedien het.

Die pad na Sunfield Home

Sarel se suster het in Wellington gewoon, en sy het hom vertel van Sunfield Home. In die begin was hy huiwerig, want hy wou Deon by die huis hou en self vir hom sorg. Die gedagte van ouer word en die noodsaaklikheid van voorsiening vir Deon sou hulle wegval, wou hy opsy skuif. Tog het hy uiteindelik ingestem om ‘n onderhoud by te woon, en Deon is op ‘n probasiebasis vir dagbesoek aanvaar.

Op dertigjarige ouderdom het Deon finaal sy eie “huis” by Sunfield Home gekry, en van dag een af het hy heeltemal daar ingepas. Hy woon al tien jaar lank daar en gaan in 2024 sy 40ste verjaardag vier.

Met ‘n ryk ervaring in beheerrade is Sarel gekies as ‘n beheerraadslid vir Sunfield Home in 2013. Hy dien tans as Voorsitter van die Finansiële Komitee en was voorheen Voorsitter van die Ontwikkelingskomitee. Sunfield Home moet voortdurend beplanning implementeer om lewensvatbaar te bly, aangesien slegs ‘n kwart van hul begroting vanaf die staat kom.

Sarel deel sy bewondering vir Sunfield Home, waar hy sê die inwoners gelukkig is en ‘n liefdevolle omgewing ervaar. Deon besoek hulle een naweek per maand asook wanneer Sunfield sluit oor Kersfees en Nuwejaar, maar hy keer altyd met ‘n gelukkige hart terug na sy “huis” by Sunfield. Hierdie sorgsaamheid het vir Sarel en Elizabeth gemoedsrus gebring, waar hulle sien dat daar nie net na die basiese behoeftes van die inwoners omgesien word nie, maar ook na hul harte en siele.

Die goeie en die slegte
Sarel se persoonlike pad het egter nie sonder nog uitdagings verloop nie. Hy het ‘n ernstige hartaanval in 2016 beleef en was ses weke in die intensiewe eenheid in die hospitaal, waartydens hy vir 10 dae in ‘n koma was en ‘n hartstilstand oorleef het. Hy was sedert 2013 lid van die Tygerberg Mannekoor, en is oortuig dat die ondersteuning van die koor, familie en vriende ‘n groot rol gespeel het in sy volle herstel.
Sarel se lewe is vol kleur, met ‘n liefde vir lees, studie van quantum fisika, en mentors soos Wayne Dyer, Greg Braden, en selfs Stephen Hawking. In tye van stres glo hy in meditasie en die besef dat mens nooit alleen is nie. Sy liefde vir vetplante, belangstelling in 2de wêreldoorlog vegvliegtuie, en gesinstyd maak hom ‘n unieke persoon.
Hy erken die rykdom wat Deon aan sy lewe toegevoeg het en hoe hy, ondanks sy gestremdheid, ‘n bron van vreugde en humor is.

Gestremdheid is vir Sarel nie meer ‘n stigma nie; hierdie inwoners is waardevolle lede van die samelewing, wat bydra tot ons rykdom en diversiteit. Sarel se perspektief op die lewe is onder andere gevorm deur sy ervaringe gedurende die grensoorlog, Deon se lewe, en sy tyd in die hospitaal na sy hartaanval.

En ons beaam dit “Your greatest testimony will come from your deepest pain”.