Geskryf deur sy sussie, Anri Hoffmann
As ek net geweet het wat dit is met jou en ‘n rand. ‘n Blink rand, en ‘n ou rand. Wat jou vreemde mense sal laat voorkeer om hulle te vra vir ‘n rand. Vir ons ook. Om wat mee te maak, behalwe om dit in jou hand vas te hou, tot dit wegraak, en dan om maar weer te vra vir nog ‘n rand….
Jou naam beteken ‘ geskenk van God’. Niks is toevallig nie, selfs nie eers ‘n naam nie.
Die slim dokters en professors het gesê dis as gevolg van ‘n tekort aan suurstof by geboorte dat jy so is. Ons mamma wou nie normaal kraam met jou nie, gesê sy kan nie, maar sy moes, hulle het mos beter geweet……terwyl jy snak na jou asem in die geboortekanaal. Ek wonder baie kere hoe alles anders sou wees as hy na haar geluister het. Watter werk jy sou doen. Waar jy sou bly. Hoeveel kinders jy sou hê. Wat as….
Kleintyd moes jy koshuis toe, Kaapse spesiale skool toe, ver weg van die huis. ‘n Pappa en ‘n mamma se harte stukkend gebreek, maar dit was die beste vir jou. Jy was gelukkig daar, en geliefd, en jy vertel nou nog van almal daar. En op jou manier het jy tog baie daar geleer.
Jy het mamma se donker hare en pappa se woeste wenkbroue. Jou bruin oë lag, maar huil maklik as ons jou bel. Jy is geliefd, jou woordeskat verstom almal, en jou sê – goed sal selfs die professors laat wonder oor jou.
Jy droom van trou met jou meisie, en van wittebrood hou in Mauritius, want jy gaan jou blink rand spaar. Die ou rand is niks werd nie…..
Jou andersheid het ons leer liefkry. Of is jy dalk meer normaal as ons? Is ons dalk die wat anders is, hoe sal ons weet?
Theo, vir jou sal ek beskerm met my lewe. En vir jou sal ek veg en baklei en verander wat ek kan. Want jy, jy is my geskenk van God.