Algon Kock is al 19 jaar lank ‘n gelukkige inwoner van Sunfield Home in Wellington.
Sy ma Alta vertel hy is prematuur gebore, het geen suigrefleks gehad nie en tot en met 3 dae oud nog geen melk ingeneem nie. Hy het erge geelsug ontwikkel en sy ouers moes inderhaas met hom Kimberley toe jaag omdat Olifantshoek nie fasiliteite gehad om hom te behandel nie. Hy moes ‘n bloedoortapping ontvang om sy lewe te red. Hier het sy ouers ook die skoknuus ontvang dat hul eersgeborene met Down-sindroom gebore is.
Vir baie ouers is so ‘n diagnose die begin van ‘n pad met uitdagings en niemand kan jou werklik daarop voorberei nie. Algon was ‘n besige en moeilike, maar tog pragtige peuter en kleuter. As gevolg van sy aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit het hy nie ‘n bang haar op sy kop gehad nie en dikwels rondgehardloop, wat veroorsaak het dat hy menige kere in winkelsentrums weggeraak het en sy ouers in trane gehad het.
Maar hoogtepunte was daar ook en nadat Algon sy skoolloopbaan by Alta du Toit voltooi het, was Sunfield Home een van die opsies wat as verblyf vir hom as volwassene genoem is. Sy ouers het hom na verskeie sentrums geneem, maar sy finale keuse was Sunfield Home, waar hy vandag steeds gelukkig is.
Die liefde en omgee van die personeel en ander mense by Sunfield, is vir sy ouers van kardinale belang en hulle waardeer dit opreg. Hy geniet die goeie kos en die sportbedrywighede by Sunfield Home en dit allles maak Algon só gelukkig. Hy is saggeaard en het ‘n groot omgee-hart vir ander mense, baie netjies en hulpvaardig en altyd bereid om te help waar hy kan.
Ouers van gestremde kinders moet nooit moed verloor nie, al lyk die pad hoe moeilik. Sy ma vertel dat konsekwentheid vir hul baie belangrik is em om jou kind altyd goed voor te berei vir enige verandering in hul program. Dit laat hulle veilig voel en voorkom woede-uitbarstings – struktuur is die sleutel vir ‘n suksesvolle en aanvaarbare gestremde volwassene.
As Algon se grootste ondersteuners, prys sy ouers Algon voortdurend en sorg dat sy voorkoms netjies is. Hulle het ook hard gewerk aan sy selfvertroue wat hom vandag help om uitdagings te bowe te kan kom.
Algon se gunstelinge:
Algon hou van pasta, pizza, KFC en burgers. Hy verkies oranje fanta koeldrank en sy gunsteling fliek is al die ‘Fast en Furious’- flieks.