Ontmoet Petrus Smit, ‘n 36-jarige inwoner met Downsindroom by Sunfield Home.

Petrus is die derde kind van pastoor Piet & Susan Smit en al was dit ‘n makliker geboorte as hul eerste twee dogters, het sy ma, weens haar agtergrond in verpleging,  ‘n vermoede gehad dat hy anders is, maar kon nog nie haar vinger daarop lê nie. Hy is in 1985 gediagnoseer met Downsindroom.

Petrus was van kleintyd af baie lief vir diere en speel nog tot vandag met sy plastiek diere. Waar sy ouers gery of gegaan het sou hy altyd die diere uitwys en hul name noem, so op sy eie manier. Hy was ‘n alleen kind en het dinge meestal op sy eie gedoen, maar is ook baie lief vir sy drie sussies en wanneer daar gebid word, begin hy dadelik bid vir almal op hul name.

Sy ontwikkeling as baba en kleuter was stadiger en sy sussie wat ‘n jaar en vyf maande na hom gebore is, het hom verby gesteek. So het hy eers op twee geleer loop en was ook baie langer op doeke.

Hy het as jong kind long probleme gehad, wat hy later ontgroei het, maar sy ouers het hom so ver as moontlik so normaal soos enige ander kind hanteer. Die Cheré Botha Sentrum het destyds vir sy ouers baie goeie leiding gegee rondom sy ontwikkeling en toekoms. Al was dit vir hul baie swaar, het hul hom op die ouderdom van vier jaar Alta du Toit koshuis toe gestuur, aangesien dit in sy beste belang sou wees om gestruktureerde leiding en intervensie vir sy spesiale behoeftes te ontvang.

Die uitgebreide familie het hom stelselmatig begin aanvaar en ander mense het ook. Al sou mense in die publiek na hom staar, het Susan dit ignoreer en aanbeweeg. Petrus is baie lief om enige een te groet, al is die persoon hoe vuil of verwaarloos.

Soos hy ouer geword het, het hy al meer geleer om homself persoonlik te versorg, soos om self te bad en aan te trek en homself besig te hou.

Aangesien hul destyds op Vredendal gebly het, wou Susan egter nie gehad het dat Petrus na skool langer in die Kaap moes  wees nie en  Alta du Toit skool het Sunfield Home aanbeveel.

Mnr. Dawie de Villiers wat daardie tyd die hoof was, het vir hul alles baie mooi verduidelik en gewys en alles vertel wat hul daar doen. Die mooi plaaslandskap en huislike atmosfeer het hul as ouers baie gerusgestel en het Petrus in 2002 daar ingetrek. Mnr. De Villiers het destyds toe Petrus permanent aanvaar is by Sunfield, vir hulle verduidelik dat hy nou ‘n inwoner by Sunfield Home is en ‘n kuiergas sal wees wanneer hy huis toe gaan.

Susan vertel dat daar oor die jare al so baie positiewe verbeteringe gekom het by Sunfield Home weens die goedhartigheid van donateurs.  “Dis vir my kosbaar dat hulle so baie moeite met hierdie spesiale mense doen en dan is dit nie eens hul eie kinders nie. Dis of hul alles gee vir ONS kinders. Hul word soos volwassenes en met soveel respek behandel. Die personeel het altyd tyd om na een van hul inwoners se storie te luister.”

Petrus is baie liefdevol en geniet dit om huis toe te kom, hy is versot op sy drie sussies en sy swaers. Dis vir sy ma ook baie lekker om hom by die huis te hê, maar as hy te lank by die huis is, begin hy in haar goed krap. Hy is baie lief vir boeke en papiere en skeur die blaaie uit! Hy kleur ook graag in, al is dit alles een kleur. Hy begin deur strepe te trek en dan kleur hy alles in. Hy is ook lief vir musiek luister en videos of stories kyk. Sy gunsteling program is Heidi en dan sing en praat hy gewoonlik alles saam. Hy sal ook radio luister in sy kamer. Sy mooi glimlag is sy beste bate en hy sal altyd as hy klaar geëet het, sy skottelgoed afdek en die smere in die kas bêre.

“Ons sal nooit verstaan wat in sy gedagtes aangaan nie, want hy kan nie praat nie. My grootste wens sou wees dat hy net bietjie kon praat, sodat ons hom beter kon verstaan, maar ek aanvaar hom soos die Here hom vir my gegee het en het nog nooit gevra hoekom is hy so nie. As mens word ons nooit voorberei vir so iets nie, maar die Here gee net aan baie spesiale ouers sulke spesiale mensies. Al wat ons as ouers moet doen, is om hulle baie lief te hê en goed te versorg na die beste van ons vermoëns.”

Uitdagings is daar verseker, maar met die Here se groot genade help Hy hierdie gesin om elke uitdaging te hanteer soos dit kom. Niks is ooit te groot om te bowe te kom nie, al is dit hoe moeilik. Fillipense. 4:13

 

 

facebook