021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Gedurende November word daar deur die regering gefokus op die bewusmaking van die regte van gestremde mense en op plaaslike vlak was 2020, soos vir almal in Suid-Afrika, ‘n uitdagende jaar vir Sunfield Home Wellington, ‘n fasiliteit vir intellektuele gestremdes. 

Covid-19 het alle fondsinsamelingsaktiwiteite wat hierdie organisasie nodig het om te oorleef in die wiele gery en ook geweldige isolasie vir die inwoners, wat gewoond was aan interaksie met die publiek, veroorsaak.

Volgens Elmarie van Schalkwyk, Uitvoerende Bestuurder by Sunfield Home, het die bestuur en personeel alles binne hul vermoë gedoen om die inwoners te beskerm deur die nodige voorkomende maatreëls te handhaaf en aangehou om verrykende aktiwiteite aan te bied vir die inwoners wat nie huis toe kon gaan na hul onderskeie families nie.

Daar was egter ‘n wonderbaarlike inisiatief deur Sandra en Chris Swart wat in September 2020 tot stand gekom het nadat hulle ‘n gedeelte van hul restaurant, The Coffee Republic Steakhouse, afgestaan het om ‘n liefdadigheidswinkel vir Sunfield Home, genaamd Sunfield Shoppe, te begin.

Sunfield Home wil nou alle inwoners van Wellington, Paarl en omgewing aanmoedig om klere, skoene, kombuisware of ander gebruiksartikels wat in ‘n goeie toestand is, vir verkope om die fondse van Sunfield Home aan te vul, te skenk. Die publiek word ook uitgenooi om inkopies te doen by die winkel gedurende die Kerstyd.

Sunfield Home gaan ook nie hierdie jaar voort met hul jaarlikse Santa Run en Kersmark nie maar  wil steeds die publiek betrokke kry by die lewens van hul inwoners.

‘n Santa-skoenboksveldtog, word dus geloods en die publiek word gevra om op 3 Desember, die Internasionele Dag vir Mense met Gestremdhede,  ‘n opgemaakte skoendoos met lekkernye, toiletware, data koepons of kunsaktiwiteite af te lewer om die lewens van die inwoners te verryk.  Alle skoenbokse kan afgelewer word aan Daisy Groenewald tot en met 4 Desember 2020.

Die publiek word herinner aan die heerlike varsgebakte pasteie wat Sunfield Home verkoop wat insluit hoender, hoender en sampioen, steak en steak en peper. Bestellings kan geplaas word by kombuis@sunfieldhome.co.za.

Vir meer Inligting oor Sunfield Home Wellington besoek gerus www.sunfieldhome.co.za of kontak daisy@sunfieldhome.co.za vir navrae.