Haar dag begin reeds soggens om 7 uur. Haar primêre taak om toesig oor Sunfield Home se spesiale inwoners te hou. ‘n Liefdesdaad waardeur sy hul bemagtig om vir hulself te sorg soos om hul bed op te maak, hul huisie uit te vee en hulself persoonlik te versorg. Sy is reeds 27 jaar hier werksaam; haar loopbaan het begin as skoonmaker, toe assistant kok, sy is opgelei in noodhulp en het later ondervinding opgedoen as huismoeder. Ons gesels vandag met Angeline Claassen, ‘n huismoeder by Sunfield Home Wellington.
Angeline is ‘n mense mens wat so graag wil hê die gestremdes met sy wie werk moet so ‘n normale lewe as moontlik lei. Haar groot begeerte as jong meisie was om ‘n maatskaplike werker te word, maar daar was nooit geleentheid of geld nie. Hierdie werk is dus vir haar ‘n roeping.
Aanvanklik het Angeline nagdiens gewerk en saans met die inwoners gesosialiseer deur met hul speletjies te speel en te dans. Wanneer die inwoners dan 10 uur gaan slaap, sê sy nag en maak seker dat almal gemaklik is. Daarna word daar elke 2 uur rondtes gedoen om te kyk of almal rustig is en slaap. Soggens word almal 6 uur wakker gemaak en moet sy ‘n verslag skryf oor die nag se gebeure. Sy beskou dit as ‘n baie groot verantwoordelikheid aangesien sy enige mediese probleme of psigiatriese probleme moet kan bespeur en by die suster aanmeld. Sy erken mens moet soms ferm wees met die inwoners, want hulle is baie soos kinders, maar dat wedersydse respek vir mekaar baie belangrik is.
Angeline is tans ‘n weduwee nadat haar man 14 jaar gelede dood is aan kanker. As enkelma het sy baie swaargekry, maar te danke aan Sunfield home het sy aan die ander kant gekom en beskou hulle as haar familie. Sy het drie kinders (Esmeralda (32), Voline (28) en Rodwill (21) asook 4 kleinkinders. Rodwill, haar jongste, is op 18 met bipolêre depressie gediagnoseer. Hy is op 6 maande deur middel van ‘n noodkeiser gebore en het agterstande gehad. Hy het arbeidsterapie deur Sunfield Home ontvang, was in School of Skills en is op 18 diagnoseer met bipolêre depressie. Maar sy bly trots op hom, hy is selfs deel van die Kaapse Klopse! Haar dogter ly ook aan depressie. Al hierdie uitdagings het haar sterk gemaak en help haar om ander te bemoedig wat deur ‘n trauma gaan. Daarom staan sy ook dikwels ouers by.
Ek vra haar wat is die lekkerste van haar werk? “Ek geniet alles, alles wat ek doen, doen ek met liefde. My hart is in my werk. My slegte oomblikke is net slegs as ek self sleg of siek voel. Die dag is te kort om te doen wat ek regtig sou wou met hierdie spesiale mense.”
Deel van haar werk is om die dood van ‘n inwoner te hanteer. As so iets gebeur moet die res van inwoners beskerm word, die liggaam moet gewas word, die ambulans en polisie moet gebel word. Die ander inwoners mag nie weet daarvan nie, want dit ontstel hulle te veel, en word ‘n sterfgeval dus baie diplomaties hanteer.
Angeline getuig sy sit nooit stil nie, sy hou van werk, selfs by die huis, en is ‘n regte versorger. Sy is ook baie betrokke in haar gemeenskap met maatskaplike probleme.
Angeline se Gunstelinge:
Gunsteling Kos: Macaroni & Kaas, Soetpampoen, Soetwortels
Gunsteling Drankie: Rooisbostee
Grootste Droom: Om Holland te besoek
Stokperdjie: Baie lief vir lees!
Wat is haar boodskap aan mense daar buite? “Dat mense gestremdes moet leer aanvaar, want hulle verdien ook ‘n vol lewe. Ek sal altyd namens hulle wil baklei.”