Om ‘n verskil te maak en gestremdes onder haar sorg te bemagtig, is een van die hoofredes waarom Berenice Wilsen, huismoeder van Huis Liebenberg, by Sunfield Home werksaam geword het. Ons gesels oor haar dag-tot-dag ervarings en uitdagings.
As Wellingtonner, wat gematrikuleer het aan Bergrivier Senior Sekondêre Skool, het sy vroeg betrokke geraak by versorging. Sy was 13 jaar werksaam as versorger by Silwerkruin Ouetehuis en ses jaar as privaat versorger by Fyngoud.
Haar dagtake behels ‘n baie nabye verhouding met die inwoners en sy hou streng toesig en help met hul persoonlike versorging. Die inwoners, word daagliks gestort, geskeer, hul tande word geborsel en hul word aangetrek. Daar word vir hulle kos geskep en gevoer. Verder word hulle naels versorg, kamers skoongemaak en skottelgoed en wasgoed hanteer.
Godsdiens maak ‘n belangrike deel van ‘n inwoner se dag uit en hulle word ook aktief met kreatiewe aktiwiteite soos inkleur, krale ryg, dans en flieks besig gehou.
Verpleging vorm ook deel van haar take aangesien inwoners medikasie moet kry, geweeg moet word en soms vergesel word na hul hospitaalbesoeke. Sy moet ook toesien dat die inwoners ten alle tye droog en skoon is.
As ‘n ma vir baie beaam sy dat die doelwit is om die inwoners te bemagtig om hierdie roetines te kan uitvoer met minimum hulp. Met die nodige aanmoediging kan hulle ook takies verrig sodat hul basiese fyn motoriese vaardighede kan ontwikkel.
‘n Versorger se rol behels om sovéél van hulself aan ander te gee, maar kan seker soms soos ‘n ondankbare werk voel? Alhoewel ons baie dankbaar is vir mense soos Berenice, voer sy aan dat die inwoners juis vir haar geleer het om meer dankbaar, vir al die dinge wat ons so vanselfsprekend aanvaar, te wees.
Berenice se gunstelinge:
Drankie: ‘n Lekker koue biertjie!
Vakansie: By die see
Leesstof: Ena Murray se boeke
Fliek: Fiela se kind
Berenice leef haar lewe volgens die bekende skrif in Fillipense 4:13: “Jy is tot alles in staat deur Jesus Christus wat jou die krag gee.”