“Staan stil en luister sodat jy kan verstaan, nie net met jou kop nie, maar ook met jou hart.”
Dit is volgens Daisy Groenewald die resep om Sunfield Home se inwoners by te staan. Voeg daarby ‘n skeutjie liefde en geduld en jy het ‘n wenresep.
Haar pad tot Sunfield Home
Daisy Groenewald, Bestuurder van Huis Liebenberg by Sunfield Home, is ‘n gebore Paarlliet en het haar skoolopleiding tussen Paarl Gimnasium en Laborie voltooi.
Haar werkservaring strek vanaf syferwerk tot opleiding en liefdadigheid. Direk na skool was sy by ‘n firma as assistent boekhouer werksaam en het daarna 9 jaar by Metropolitan in die rekeningafdeling gewerk. Na haar kinders se geboorte het sy na Wellington verhuis, waar sy by Douglas Green as statistieke beampte en later as aankope- en ontwikkelingsbestuurder werksaam was.
Sy was ook betrokke by verskeie skole waar leerlinge geëvalueer is en waar sy kursusse aangebied het deur die SA Memory Instituut Franchise wat sy vir 3 jaar besit het.
Daisy het baie tyd met minderbevoorregtes deurgebring, hulle ondersteun, kinderhuise en ouetehuise besoek en geskenkies uitgedeel met die hulp van verskaffers wat dit moontlik gemaak het.
Sunfield Home het oor haar pad gekom deur familie. Sy het in die verlede ‘n paar keer ons Paasspel-opvoerings bygewoon en die inwoners het haar hart diep geraak.
Daisy het aanvanklik die werkswinkel bestuur en saam met die werkswinkelpersoneel daaglikse programme met allerlei aktiwiteite aangebied. Hierna is sy aangestel as Dienstebestuurder en vanaf Februarie 2021 as Bestuurder by Huis Liebenberg – ‘n groot droom wat verwesenlik is.
Die rol van kreatiwiteit in die lewe van ‘n inwoner
Daisy verduidelik dat kreatiewe werk vir die intellektueel gestremde persoon beteken dat kommunikasie en sosiale vaardighede verbeter kan word. Met genoegsame stimulasie kan aggressie en persoonlikheidsversteurings onder beheer gehou word. Werksvaardighede help die inwoners ook om daagliks iets te hê om na uit te sien. Dit lei ook tot positiewe interaksie met die personeel en mede-inwoners.
Verder help die kreatiewe werkswinkels om selfversorgingsvaardighede te verbeter en gee inwoners ook, met die nodige bystand, die vermoё om huishoudelike take self te kan verrig.
Die uiteindelike doel vir die inwoners is om sover moontlik semi-onafhanklik te kan wees en met die nodige ondersteuning as ‘n volwassene te kan funksioneer en sodoende hul menswaardigheid te behou.
Hoogtepunte
Loslitdag by Sunfield Home was nog altyd vir haar ‘n hoogtepunt en sy glo mens kan op die inwoners staatmaak om te sorg vir groot opwinding wanneer hulle op ‘n uitstappie kan gaan. Na so ‘n uitstappie sal almal gelyk praat oor hoe hulle die dag geniet het en die koeldrank en lekkernye wat hulle ontvang het.
Sunfield Home bied ook onder andere ‘n Valentynsdans vir inwoners aan. Die opgewondenheid rondom wat hulle gaan aantrek en hoe hul hare en grimering gaan lyk is tasbaar voor die tyd. Die saal word met liefde getooi word en die paartjies kan hand aan hand die saal binnekom. Kurt Darren se “Kaptein, span die seile” en “Jessica” is almal se gunsteling liedjies.
Al hierdie spesiale oomblikke van geluk is vir haar ‘n buitengewone emosionele ervaring en sy is dankbaar teenoor die versorgers wat die inwoners altyd so spesiaal laat voel.
Op persoonlike vlak, was die hoogtepunt vir haar om ouma te word en haar kleinkinders het haar met nuwe oë na die lewe laat kyk.
Daisy is ‘n baie passievolle mens, ’n goeie luisteraar en altyd bereid om hulp aan te bied en raad te gee waar nodig. Sy loop altyd die ekstra myl.
Die wêreld van ‘n gestremde
Daisy glo dat as jy eers in die wêreld van ‘n intellektueel gestremde beweeg, jy later weet wat in hulle harte en siele omgaan. Dis daarom so belangrik om stil te staan en te luister na wat hulle aan jou wil oordra.
Intellektueel gestremde mense het regte soos enige ander persoon. Elkeen is ‘n individu met sy eie identiteit en moet met respek behandel word.
Die belangrikste les wat sy by Sunfield Home geleer het is dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat saak maak. Die manier hoe die inwoners mekaar in tye van hartseer vertroos laat haar besef hoe baie ons het om voor dankbaar te wees. Daisy wou graag ‘n maatskaplike werker word en dis ook hierdie oomblikke wat vir haar die bevestiging gee dat haar werk by Sunfield Home ‘n roeping is.
Sy nooi die publiek uit om betrokke te raak by Sunfield Home as ‘n vrywilliger en die liefde te kom ervaar wat hierdie spesiale mense uitstraal. Groot besighede wat gebruik maak van kontrakwerkers kan Sunfield Home ook kontak aangesien die inwoners al baie suksesvolle projekte so aangepak en voltooi het.
Daisy herinner ons dat daar altyd iets is waarvoor ons dankbaar moet wees, dat ons goedhartigheid oral moet sprinkel soos water en dat die klein dingetjies in die lewe die meeste plek in jou hart opneem.
Daisy se gunstelinge:
Drankie: Koffie
Vakansie: By die see
Boek: Sabbatsreis, Thula Thula van Annelie Botes