Melinda is op 12 Januarie 1987 op die plattelandse dorp Swellendam gebore. Tien dae na haar geboorte is sy as baie siek baba per ambulans na Louis Leipoldt hospitaal, waar sy vir ‘n maand in ‘n broeikas gelê het, geneem.
Op daardie stadium kon die pediater reeds bevestig dat Melinda breinskade opgedoen het, maar kon nie die oorsaak daarvan bepaal nie. ‘n Breinskandering by Tygerberg Hospitaal het die diagnose bevestig en Melinda is terug huis toe. Sy was steeds gereeld siek en het gesukkel om haar voeding binne te hou, dan moes sy deur middel van ‘n drip binneaarse voeding ontvang.
Op die ouderdom van drie maande het die nuus gekom dat die Rooi Kruis Kinderhospitaal ontdek het dat Melinda aan Isovaleriese Asidemie, ‘n baie skaars metaboliese afwyking, lei. Sy is gebore sonder die ensiem wat proteïne afbreek. Proteïne is dus soos gif vir haar liggaam en is die rede waarom sy breinskade opgedoen het. Isovaleriese Asidemie is geneties en daar is bevind dat albei haar ouers draers is. Melinda was egter maar die vierde geval in die Rooi Kruis en Tygerberg hospitale se geskiedenis.
Haar ouers was jonk en onervare en dit was ‘n uitdaging om so ‘n seldsame afwyking te moes hanteer. In Suid-Afrika was daar ook nie ‘n melkformule, wat geskik was vir haar, beskikbaar nie en die Tygerberg Genetiese Kliniek moes die melkformule vanaf Amerika invoer. Dit was vir ‘n jaar gratis verskaf, waarna sy kon oorgaan na ‘n formule in Suid-Afrika wat die naaste daaraan was.
Sy volg vandag nog ‘n lae protein-dieët, wat alle dierlike produkte uitsluit, asook sade, bone, neute en soja. Haar liggaam hanteer dit egter baie beter soos sy ouer en groter geword het en gelukkig beland sy gevolglik nooit meer in die hospitaal nie.
Melinda was vanaf 1992 tot 2005 by Alta du Toit Skool in Kuilsrivier. Sy was egter nooit in ‘n koshuis nie en het skool gegaan vanaf haar ouerhuis. Na skool het sy vir drie dae ‘n week as ‘n dagbesoeker na Huis Horison in Stellenbosch gegaan. Haar ouers was bewus van ‘n plek vir intellektueel gestremdes in Wellington, Sunfield Home, en het besef dit is tyd dat hulle vir Melinda permanente versorging moes kry.
Haar dieët was ‘n probleem by baie ander plekke, aangesien sommige van hierdie plekke buite maatskappye gebruik om hul kos te voorsien. Na ‘n persoonlike onderhoud met Sunfield Home het hulle egter gemoedsrus ontvang dat daar in haar behoeftes voorsien kon word en het Melinda in Februarie 2015 by Sunfield Home ingetrek.
Melinda het ook ‘n oogversteuring, Keratoconus, en gevolglik baie swak sig. Sy kan ook glad nie lees of skryf nie, maar wel met ‘n selfoon of rekenaar werk. Sy is baie erg oor musiek en dans, en oor wasdag en strykdag! Sy hou van dinge op hul tyd en haar ouers loop as gevolg daarvan soms deur by die huis! Sy is op psigiatriese medikasie, maar ervaar steeds goeie en slegte dae. Op goeie dae geniet die personeel haar en al haar sêgoed en op slegter dae het die hulle geleer hoe om haar woedebuie beter te hanteer.
Ten spyte van haar beperkte vermoëns bly sy iemand wat baklei vir haarself. Sy laat niemand toe om oor haar te loop of haar goed te vat nie. Haar ouers sou haar graag meer onafhanklik wou grootmaak, maar was bekommerd dat niemand anders na haar sou kon omsien nie. Hulle is egter gou verkeerd bewys. Sy reeds ses jaar by Sunfield Home en dol gelukkig!