021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Desiree Liebenberg woon in Weltevrede Wellington en het grootgeword op Welbedacht plaas agter Groenberg. Sy het onderskeidelik haar laer- en hoërskool loopbane voltooi by Pauwgedenk Primêr en Bergrivier Sekondêr en haar besluit om met gestremdes te werk, was om meer te leer hoe sulke mense hul gestremdheid hanteer.

Tydens die afgelope 30 jaar by Sunfield Home het sy baie ondervinding opgedoen en beskou die liefde wat hierdie mense aan ander toon as een van haar hoogtepunte.   “Wanneer jy die dag afvoel, sal daar altyd iemand wees wat vir jou kom sê jy dat jy mooi lyk of dat hulle lief is vir jou.  By Sunfield is daar altyd iets om oor te lag, al is jy ook hoe omgekrap of ongelukkig.”

Desiree vertel dat die versorging van inwoners haar motiveer omdat hulle nie hulself kan help nie en sy werklik ‘n verskil kan maak. Deur die dag sal sy klein takies verrig soos kaste regpak of naels knip en hare versorg. Sy help verder met pille uitdeel in die siekebog of vergesel die inwoners na die kliniek of dokter.

Die uitdaging om die moeilike inwoners te hanteer, raad te gee waar nodig is of selfs om dissipline toe te pas oorkom sy elke dag met die krag wat sy van haar Hemelse Vader kry. Soms moet sy as moederfiguur optree en ander kere weer sielkunde toepas.

Desiree is geskei, maar het ‘n lewensmaat en 4 kinders, ‘n tweeling en nog ‘n seun en dogter. Sy het ook 5 kleinkinders.  Twee van haar kinders is getroud, haar oudste seun is ‘n speurder en haar twee dogters werk in die korporatiewe omgewing.

Sy sou mense wou leer om gestremdes met liefde te hanteer en voer aan dat ons as normale mense  baie by gestremdes kan leer, soos om liefde te gee en hulle te aanvaar soos hulle is.

“Gestremdes het ook drome net soos ons sin, en as hulle kon kies sou hulle normaal wou wees met hul eie huise en gesinne.”

Desiree se gunstelinge:

Desiree geniet rugby en krieket, hou baie van tee en soms ‘n cider by ‘n braai. Sy verwyl egter liewer tyd saam met haar geliefdes by haar huis as om met vakansie te gaan.

Ons wil haar eer vir haar toewyding en diens aan haar medemens.