Vanuit die staanspoort kan jy hoor – Marie Baadjies is ‘n diep Christen – een wat getuig dat sy alles aanpak met God aan haar kant.
Sy is gebore en het groot geword op ‘n plaas in Wellington en ook daar skoolgegaan, maar moes skool vroeg verlaat omdat haar ouers swaargekry het en sy gedwing was om te gaan werk. Sy het dus as huiswerker in Constantia gewerk en daarna by die Onderwys Kollege Boland in die koshuis as skoonmaker en later as kok. Hier het sy 13 jaar gewerk.
As ses-jarige het haar ma tydelik die huis verlaat en moes sy op ‘n kissie staan en leer om kos te maak. Dit het haar baie selfstandigheid geleer.
Sy het in 2006 by Sunfield Home begin werk nadat vriende wat ook hier werksaam was, haar verwys het. Sy het baie gebid dat die Here vir haar die regte werk sal gee.
Sy geniet haar werk as kok en om allerhande kos voor te berei en te bak terdeë. Sy wil alles voorberei met liefde en dit is vir haar lekker om te sien hoe die inwoners dit geniet en hoe dankbaar hulle daarvoor is.
Sy voeg by dat mens baie geduld, liefde en respek moet hê om ‘n pad saam met die inwoners te stap. Baie se geheue is kort, maar hul vra maklik om verskoning en vergewe ook baie gou. Sê Marie: “Ons as gesonde mense vergewe so moeilik en kan baie leer by gestremde mense.” Hulle is die liefdevolste mense wat jy sal ontmoet en maak haar baie positief.
Marie het twee seuns en twee dogters, waarvan een seun gestrem is. Hy is op 5 maande gebore met water op sy brein en dit het die helfte van sy brein geaffekteer. Sy een been is ook effens korter as die ander een. Hy is 26, maar sy sê elke jaar dankie vir nog ‘n jaar wat God hom vir haar gegee het. Sy poog om sy hart elke dag te steel en hom gewaardeer te laat voel. Haar dogter is getroud en die ander een seun en dogter is ook reeds werkend.
Haar droom vir Sunfield Home Wellington is dat almal wat hier werk moet hande vat en in ‘n dieper verhouding met God moet wees en dat hul werk van liefde en vrede sal spreek.
Marie se gunstelinge:
Drankie: Appletizer
Kos: Alles behalwe kreef en perlemoen!
Haar droom is om eendag by die see vakansie te kan hou met haar kinders, iets wat ons haar ook beslis toewens!