021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Ek gesels weens Covid-19 telefonies met Gregory en ondervind hom as ‘n energieke en opgewekte persoon met ‘n passie vir sy werk by Sunfield Home!

Gregory (39) is gebore in Wellington, het by Bergrivier Hoërskool skool gegaan  en daarna by Boland Kollege Spyseniering studeer.  Hierna het hy by Schoongezicht gewerk as ‘n kok waarna hy aangestel is by Checkers as Deli-Kontroleerder vir 9 jaar. Hy het in 2019 by Sunfield werksaam geword as kok nadat hy hul reeds ‘n geruime tyd op Facebook gevolg het.

Van jongs af moes hy help met kos maak by die huis omdat sy ma gewerk het en is hy uitgedaag om innoverend te dink en nuwe dinge te probeer. Dit is ook hier, agter die kospotte, waar sy liefde vir spyseniering begin het.

Gregory is by Sunfield Home verantwoordelik vir die voorbereiding van middag- en aandetes asook versnaperinge.  Hy en sy kollega, Marie Baadjies werk weens Covid tans 12 uur skofte maar andersins dag- en aandskofte.   Alhoewel sy eerste liefde spyseniering is, is sy ander passie om met gestremde mense te werk.  Sy werk in die kombuis gaan dus nie net oor kosmaak nie, maar oor die verhoudinge wat hy bou met die inwoners. Gregory sê: “Jy raak deel van hul lewens, eendag is ek ‘n pa, eendag is ek ‘n broer.  Hulle haal jou uit jou gemaksone uit”.

Sy grootste uitdaging was aanvanklik om noukeurig te skep, want jy moet genoeg skep, maar ook nie te veel nie, want anders kry almal nie kos nie! Hierdie vaardigheid het hy gelukkig gou onder die knie gekry en werk baie lekker saam met sy kollegas en goeie bestuurder.

Gregory voer aan dat alhoewel sy dae soms nie lekker begin as hy opstaan nie, vergeet hy sommer heeltemal van sy probleme as hy by die werk kom. Die lekker van sy werk lê juis daarin dat die gestremde mense met wie hy werk hom nooit oordeel nie en altyd baie dankbaar is vir wat hulle ontvang. ‘n Les wat ons almal by hulle kan leer.

Sy wens is dat Sunfield Home net van krag tot krag sal gaan.

Gregory is tans 7 jaar getroud met Monique en het twee kinders, ‘n seun van 18 (Storm) en een van 6 (London Blue). Die ongewone naam se betekenis is Blou Diamant.

Gregory se gunstelinge:

Drankie – Brandewyn en Coke

Kos – Lasagne

Stokperdjies – Geniet TV realiteitsprogramme en sport. Nadal is sy gunsteling speler!

Droom vakansie:  Bootreis