021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Ons vertel julle vandag meer van ons getroue sekuriteitswagte wat die Sunfield Home perseel en ons inwoners so getrou bewaar.  Tyrone Lambert is 24 jaar oud en kom uit ‘n gesin van ses. Hyself het ook ‘n dogtertjie van ‘n jaar oud.  Tyrone is werksaam by die sekuriteitsmaatskappy, Crime Force wat deur Sunfield Home Wellington gebruik word as diensverskaffer.  Hy het sy opleiding in Franschhoek ondergaan en beskou homself as ‘n stil, maar vriendelike werkskollega.

Tyrone was eers werksaam in die Paarl alvorens hy na Sunfield Home verplaas is en geniet dit om met die besoekers in aanraking te kom wat altyd so bedagsaam en vriendelik is.  Hy geniet die inwoners wat nou en dan kom groet omdat hulle altyd ‘n positiewe gesindheid het en altyd gelukkig is.  Hier het hy geleer dat mense met ‘n gestremdheid nie anders is as gewone mense nie en dat hulle altyd met dieselfde mate van respek behandel moet word.

Tyrone  geniet so nou en dan ‘n gourmet burger en is baie lief vir vrugtesap, hy is ook ‘n groot aanhanger van aksiefilms en sy stokperdjie is om te teken. Sy sketse weerspieël dit wat hom in die lewe inspireer. Hieronder is ‘n skets van sy dogtertjie:

Untitled design 66

Lionel het na sy skoolopleiding  in ‘n opvoedkundige rigting in Kaapstad studeer en was vir ‘n aantal jare in ‘n opvoedersrol in Mitchell’s Plain en Manenberg. Hierna het hy in die bemarkingsbedryf by ‘n meubelsaak gewerk en is tans by Sunfield Home besig met sy B.B.P. – Baie Belangrike Persone se beskerming! Hy het twee dogters, waarvan die oudste ‘n aankope/ontvangsdame is by ‘n plaaslike ingenieursfirma en die jongste nog op skool is.

Hy geniet sy volgehoue kommunikasie met die besoekers, ouers en familie by Sunfield Home en beskryf die inwoners as wonderlike, spontane mense wat soms baie ondersoekend en weetgierig kan wees. Lionel vind dit baie interessant om na hul intelligente gesprekke te luister en is dit eens dat mens hul denk-en sienswyses moet respekteer.  Daar is vir elkeen van hulle ‘n plekkie in die son.