021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Waldie van Schalkwyk is tans die Operasionale Bestuurder van Sunfield Home in Wellington en ook gade van die Uitvoerende Bestuurder, Elmarie van Schalkwyk.

Waldie het grootgeword in Parow en het gematrikuleer aan Tygerberg Hoërskool waarna hy sy militêre diens en ‘n offisierskursus voltooi het en was ook betrokke by die Burgermag.

Hy het hierna 3 jaar by die Greatermansgroep gewerk as onderbestuurder van verskeie Checkers winkels en na ure sy kwalifikasies verwerf by die Instituut van Administrasie en Handel.   Waldie het vir die res van sy korporatiewe loopbaan homself by die Plaaslike Owerheidsektor bevind totdat hy 13 jaar gelede ‘n pakket geneem het in sy posisie as Assistent Stadstesourier by die Blaauwberg Munisipaliteit.

Waldie het hierna sy eie konstruksiemaatskappy in Wellington begin en op ‘n tydelike basis by Sunfield Home betrokke geraak. Hy het met tyd besef dat sy roeping by Sunfield Home en sy inwoners lê.

Sy roeping by Sunfield Home

Waldie se werk by Sunfield Home behels die basiese instandhouding van geboue en terreine en die versekering van 24-uur sekuriteit asook die beskikbaarheid van vervoer aan inwoners en personeel. Alle bouprojekte te Sunfield word ook deur hom as projekbestuurder hanteer. 

Hy monitor elke afdeling se doen en late in opdrag van die Direksie, ten einde te verseker dat waarde vir geld verkry word en vorm dus ook deel van die senior bestuursgroep wat beleid, strategie, prosedures ens. formuleer.

Alles by Sunfield Home gaan oor die inwoner en Waldie koester die interaksie soos byvoorbeeld om telkemale deur die dag deur inwoners met ‘n glimlag gegroet te word en om fasiliteite te skep waar die inwoners ‘n beter kwaliteit lewe kan geniet.

Hoogtepunte en uitdagings

Die totstandkoming van Huis Liebenberg vir laer funksionerende inwoners,  ‘n nuwe saal en kombuis, 31 woonstelle, verhitte swembad, terapeutiese borrelbad en baie ander elemente wat die inwoners se lewe aangenaam en gemaklik maak,  is maar van die baie dinge waarop hy trots is.

Die grootste uitdaging bly om Sunfield finansieël volhoubaar en lewensvatbaar te hou. Dit beteken opsigself dat groei en uitbreiding noodsaaklik is en derhalwe die konsolidasie van ‘n aangrensende geskenkte 5 ha grond met die bestaande eiendom om verdere ontwikkeling te laat plaasvind.

Alhoewel Waldie en sy vrou, Elmarie, se idees hemelsbreed verskil,  jaag hulle ‘n gemeenskaplike doel na en kan hul dus hul persoonlike opinies en meningsverskille opsy sit ten einde goed deurdagte besluite te neem.

Waldie geniet ook sy twee pragtige stiefdogters wat hulle tans in die onderwys bekwaam.

Sy droom vir Sunfield is om vir die volgende 100 jaar ‘n gespesialiseerde diens te kan lewer met professionele personeel asook ‘n eenheid vir verswakte inwoners.

Vir die mense daar buite sê Waldie: “It is only through empathy that the human soul can survive.”

Waldie se gunstelinge

Kos:              Tamatiebredie, kerrie afval, lewer en “spare ribs”.

Drankie:        ’n Lekker dik aarbei melkskommel, karatewater en Coke!

Vakansie:      Langs die see is perfek

Stokperdjies: Visvang, jag, motorfietse…..en die belangrikste braai, soveel as moontlik….elke aand!