021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

“Ons spesiale inwoners vra nie baie nie. Hul soek net liefde en omgee, drukkies en ‘n glimlag. Hul het niks meer as dit nodig om hul gelukkig te maak nie. Die mensdom is verskriklik materialisties en vergeet wat werklike geluk is. By Sunfield Home kan jy hierdie geluk elke dag beleef.”

Bly te kenne Elmarie

Ons almal ken Elmarie as die Uitvoerende Bestuurder by Sunfield Home, vandag gesels ons bietjie met haar oor haar agtergrond en haar passie vir haar werk.

Elmarie van Schalkwyk is gebore in Pretoria op 7 Oktober 1966 as die oudste van drie kinders. Sy het skool gegaan by Buffeljagsrivier Laerskool en het in 1984 aan die Swellendam Hoërskool gematrikuleer.

Na skool het sy haar mediese opleiding by Eben Donges Hospitaal en Otto Du Plessis Kollege vir ‘n 4-jaar Diploma, in Algemene Verpleegkunde, Verloskunde, Gemeenskapsgesondheid en Psigiatrie, voltooi.

Haar loopbaan het in Worcester as ‘n teatersuster by die Eben Donges Hospitaal en later Mediclinic begin en sy het ook as ‘n klinieksuster by die WP Bloedoortappingsdiens gewerk en as ‘n flebotomis by ‘n gespesialiseerde selverdelingseenheid in Pinelands.

Elmarie sou hierna die pos as Bestuurder vir die Universiteit van Kaapstad se Tuberkulose Inentingsinisiatief vir Worcester, Robertson en Kaapstad aanvaar, waar sy 160 personeellede bestuur het. Sy was ook by die ko-ordinering van epidemiologiese studies en studiegroepe betrokke.

Sy het van die pos as UItvoerende Bestuurder by Sunfield Home deur die aanbeveling van ‘n vriendin, wat hier as stafverpleegster gewerk het, tehore gekom en in Desember 2011 die pos aanvaar. Sy vertel dat die hoogtepunt van haar werk is om elke dag terug te keer na dit waarvan sy hou en waar sy ‘n werklike verskil kan maak. Sy beskou dit as ‘n unieke voorreg.

Elmarie is geskei, maar het ‘n tweede kans op geluk gekry toe sy vir Waldie in November 2012 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Sy het toevallig voorheen, by die WP Bloedoortappingsdiens waar sy vroeër werksaam was, met hom te doen gehad en hom dadelik herken. Dit was bestem dat hulle bymekaar moes wees en hul is ses maande later getroud. Waldie het as boukonktrakteur by Sunfield betrokke geraak en is later aangestel as Operasionele Bestuurder.

Elmarie het twee dogters. Haar oudste dogter, Ashley, is 23 en  het sopas haar vierde jaar in B Ed Grondslagfase voltooi.  Sy gaan haar B Ed Honneurs in 2020 aanpak en wil in Inklusiewe Onderwys, gerig op Intellektueel Gestremdhede en Outisme, spesialiseer.  Haar jongste dogter, Nicole, is 20 en is het haar tweede jaar in die B Ed Intermediêre Fase voltooi. Beide haar skrander dogters is Cum studente en sy is baie trots op hulle!

Elmarie se gunstelinge  

Gunsteling drankie:           ‘n Glasie goeie rooiwyn

Vakansie:                             ‘n Kamp langs die Weskus met geen geriewe en geen selfoonontvangs

Boek:                                    Pride and Prejudice (Jane Austin)

Fliek:                                     The Notebook

Gestremdheid en die publiek

Daar bestaan baie miskonsepsies rondom gestremde persone in die publiek en daarom is dit Elmarie en haar span se taak om die publiek oor die waarde en uniekheid wat hierdie mense oor beskik, te onderrig.

“‘n Intellektuele Gestremde is ‘n persoon net soos ek en jy. Die enigste verskil is dat hierdie spesiale mensies ‘n laer IK het as wat as normaal bestempel word. Elkeen het steeds hul eie persoonlikhede en gawes wat waardeer en ontgin moet word.”

Die toekoms

Sunfield verrig ‘n diens van onskatbare waarde in die lewens van intellektueel-gestremde persone, maar het ook baie uitdagings. Dit sluit die balansering van die uitgawes vs die inkomste, om te verseker dat Sunfield Home ‘n volhoubare diens kan lewer, in.

“Ons is voorwaar geseënd en is so oneindig dankbaar vir elke skenking en donasie wat aan Sunfield Home gegee word.”

Daar is egter ‘n dringende behoefte om ‘n Verswakte Versorgingseenheid te bou en mediese personeel vir die inwoners wat ouer en fisies gestremd raak, daar te stel. Sunfield is nie ingerig en toegerus vir fisiese gestremdheid nie, derhalwe moet ander, dikwels skaarser, heenkome gesoek word, indien ons inwoners hierdie sorg benodig.

Elmarie glo egter dat geen probleem te groot is om op te los nie en dat ‘n mens net versigtig genoeg moet kyk om die oplossing te ontgin.

Rolspelers wat tot hierdie gesprek wil toetree kan met Elmarie in verbinding tree by elmarie@sunfieldhome.co.za.