Ons bring vandag hulde aan Adri-Marie, een van ons inwoners wat op tragiese wyse, weens ‘n ongeluk met vuuraansteker-jel by haar huis, gesterf het.
Uit talle boodskappe, was dit baie duidelik dat sy die lig in haar ouers en andere se lewens was. Adri is weens ‘n motorongeluk op die ouderdom van 6 maande gestrem gelaat. Sy het ook tydens hierdie ongeluk haar biologiese moeder verloor. Haar Pa, ‘n prokureur in Wellington, het haar daarna alleen versorg totdat hy weer later getroud is.
Te midde van haar gestremdheid was Adri ‘n vredemaker en ‘n bondel sonskyn. Garine de Wet, Bemarker vir Sunfield Home, vertel dat sy haar altyd kon vergelyk met ‘n sonneblom. Al was die omstandighede by tye baie moeilik, het sy altyd haar kop gedraai en gefokus op dit wat mooi was. Sy was baie lief vir sing en toneelspeel en het vir geen uitdaging teruggestaan nie.
Sy het aan alles deelgeneem, naamlik Sunfield Home se eerste Trailrun, Loslit-bewusmakingsveldtog, Spur se Shadow Shifts, Loslit Modelkompetisie, breiwerk en Madibadag. Sy het ook opgetree as een van die ontvangsdames by Sunfield Home.
Haar kamer was altyd vol vriende vir wie sy ‘n ware steunpilaar was en sy het ‘n verhouding met Dean Rabie, ‘n ander inwoner vir die afgelope 6 jaar gehad. Hulle was onafskeidbaar.
Ons sal Adri as ‘n opregte Engelkind onthou en glo sy bring lig en vrede waar sy nou in die hemel bly.