021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

SR CHERRYL PIENAAR

Sr Cherryl Pienaar is in wese ‘n matriarg, ‘n dinamiese , hoogs-intelligente persoon met ongekende ervaring in dit wat sy doen, wat met die oog af ‘n probleem kan raaksien, nog voor dit gebeur en regstaan met raad en daad.

Sy is verantwoordelik vir die siekeboeg by Sunfield Home Wellington,  waar sy elke dag die inwoners moet monitor om te bepaal of daar ‘n mediese probleem is wat behandel moet word.

Die lewe van ‘n gestremde bied ‘n unieke uitdaging aan hierdie tipe personeel aangesien hul nie noodwendig altyd kan vertel wat hulle makeer of selfs agterkom dat hulle siek is nie.  Dit behels die monitoring van hul nie-verbale gedrag, en ‘n sielkundige benadering om te bepaal of ‘n inwoner manipulerend is en of hy/sy werklik siek is. Hier is nie net boeke kennis van toepassing nie, maar ‘n werklike verhouding met elke inwoner, asook baie geduld.

‘n Roeping

Sr Cherryl is gebore in Wellington en het by Grootte Schuur haar opleiding gedoen, waarna sy in Johannesburg in talle privaat klinieke gewerk het, later in privaat praktyk, outehuise en Hospice en in 2015 by Sunfield Home Wellington aangesluit het. Die mediese roeping is in haar gene.  Haar hele gesin werk tans in die mediese veld. Haar gewese man, is ‘n dokter in privaat praktyk, haar seun Gideon, ‘n psigiater in New England Hospitaal, haar dogter Elzbeth, ‘n fisioterapeut by Lentegeur en haar jongste seun Jacques ‘n sielkundige en onderwyser by Bridge House in Franschhoek.

Sr Pienaar is ‘n mense-mens wie nooit ‘n administratiewe werk sou kon doen nie, sy geniet die interaksie met mense net te veel.   ‘n Belangrike les wat sy egter geleer het, is dat alle mense, ook gestremdes, gesonde grense nodig het.  Gestremde mense kan soms manipulerend wees en gesonde grense laat hul veilig voel.

In haar vrye tyd lees sy baie, sy stel belang in boeke oor mense se oorlewingsinstink en geniet Deon Meyer se boeke, krieket en haar 4 kleinkinders.

Sr Cherryl se gunstelinge

Kos:  Sop
Drankie: Whiskey
Vakansie: Kalahari
Alternatiewe beroep: Onderwyseres

LOUISE MARAIS

Louise Bosman is Sr Cherryl se regterhand by die siekeboeg en hulle funksioneer soos twee kante van ‘n muntstuk.

Sy is afkomstig van die Paarl en het daar skool gegaan en is daar getroud, waarna sy werksaam was by ‘n outehuis. Sy is nou reeds 12 jaar by Sunfield Home Wellington, eers in die werkswinkel en nou die afgelope 3 jaar in die siekeboeg.  Sy vertel dat dit ‘n absolute passie is om daar te werk en beskou Sr Cherryl as haar leermeester. Haar werk behels die uitgee van medikasie, bestellings, monitoring van pasiënte se bloeddruk asook fisiese ondersoeke.  Pasiënte word byvoorbeeld een keer ‘n maand geweeg en daar word op gereelde basis urine- en suikertoetse gedoen. 

Sy is ook verantwoordelik vir die snoepie op Vrydae en die aankoop van toiletware en die hantering van inwoners se lone en spaargelde.  Sy moet die geld namens die inwoners bestuur en geniet dit om te sien hoe trots hulle is as hulle sien hoeveel geld hulle gespaar het om ietsie te kan koop om mee huis toe te gaan!

Haar beloning

Die dankbaarheid van gestremde persoon is vir haar die grootste beloning in haar werk asook die feit dat sy ‘n verskil kan maak deur byvoorbeeld te help om mediese probleme op te los en ongelukkig te kan voorkom.  

Dis vir haar belangrik om objektief te bly, maar terselfdertyd, empaties te wees. Sy sou graag groter bewusmaking wou kweek oor die regte van die professionele span wat gestremdes moet versorg en hoe belangrik dit is om die werk wat hulle doen te verstaan en te respekteer.

Louise se gunstelinge

Louise het ‘n seun Morné (39) (Auto-Elektrisien) , ‘n dogter Anel – Boekhouer (33) en 2 kleinkinders, almal woonagtig in die Paarl.  

Kos:  Braai aartappels
Drankie: Cider
Vakansie: By die huis
Alternatiewe beroep: Niks anders nie.