Lindy Nupen is 5 weke te vroeg op Kersdag 1981 in Johannesburg gebore. Die Nupens was ten tye van haar geboorte reeds die ouers van twee ouer kinders.
Later die dag is haar geskokte ouers, Grant en Rosemary, meegedeel dat sy Downsindroom het. Met tyd het die Nupens die realiteit van die diagnose aanvaar en Lindy kon op 3 weke, nadat sy nie meer langer buisvoeding ontvang het nie, huis toe gaan. Sy was stadig om te reageer, maar het sommer gou in hul harte ingekruip.
Sy is gediagnoseer met ‘n opening in haar hart en het gesukkel om asem te haal. Sy het dus baie tyd by dokters en in hospitale spandeer voor sy 2 jaar oud was. Vandag is sy 38 en haar ouers se trots. Hulle is baie lief vir haar en die opening in haar hart het ook wonderbaarlik gesluit.
Die Nupens het van Sunfield deur ‘n groep vriende in Johannesburg te hore gekom en Lindy het by Sunfield, Canelands in KZN begin toe sy 8 jaar oud was. Haar ouers moes vier keer ‘n jaar Durban toe vlieg om haar na die skoolvakansie terug te neem. Dit was ‘n moeilike tyd vir hulle, maar Lindy het groot spronge in haar vordering gemaak. Die personeel by die skool was ook buitengewone mense.
Die gesin het in 2001 na Kaapstad verhuis en Lindy het by Sunfield Home, Wellington, in 2002 aangesluit. Die aanpassing was aanvanklik moeilik, maar sy het gou tuis gevoel in haar nuwe omgewing as gevolg van die liefde en ondersteuning van die personeel. Sy geniet die werk meer as die skoolsisteem. Sunfield Home Wellington se ondersteuning ten opsigte van haar spraak- en ander terapieë was ongelooflik en Lindy het baie goed op die stimuli en verskeidenheid van aktwiteite gereageer. Sy beskik ook oor goeie gespreksvaardighede en mense wat haar ontmoet beskryf haar as fassinerend en liefdevol.
Die ontwikkeling by Sunfield Home Wellington die afgelope paar jaar is uitstaande. Lindy beskik nou oor haar eie woonstel, sy is redelik onafhanklik en tegnologies vaardig, wat kommunikasie met haar vergemaklik.
Haar ouers het sedert hul aftrede teruggetrek Johannesburg toe, maar Lindy het gekies om in Wellington te bly omdat sy Sunfield as haar tuiste beskou. Swem het ‘n geweldige impak op haar lewe en haar gesondheid gehad. Sy was waterslim teen die ouderdom van 6 maande en is sedertdien mal oor swem. Sy is geseën om ‘n lewens- en swemafrigter in Lynette Emslie te hê en het Suid-Afrika by die Downsindroom Wêreldkampioenskappe in Durban, Ierland en Taiwan verteenwoordig. Tydens elke kompetisie het sy onafhanklik gereis saam met die span. Sy swem nie meer kompeterend nie, maar beoefen dit nog vir fiksheid.
Die Nupens het 4 kinders vir wie hulle almal ewe lief is. Hulle erken dat elke kind uniek is en hul eie spesiale eienskappe het. Hulle voel Lindy se uniekheid is as gevolg van die feit dat sy:
- Almal onthou wat sy ontmoet
- Almal se verjaardae onthou en vir almal ‘n spesiale WhatsApp boodskap stuur.
- Almal dieselfde behandel ongeag hulle ouderdom, talent, geslag of etniese oorsprong.
Die ongelooflike reis wat die Nupens met hul geliefde dogter deel, het teweeggebring dat hulle haar nie as ‘n gestremde persoon sien nie, maar eerder as iemand met spesiale eienskappe.
Lindy is gebore vir ‘n rede. Sy het van die Nupens beter mense gemaak en hulle geleer van onvoorwaardelike liefde. Die Nupens is dit eens dat hulle nie dit op hul eie sou kon doen nie en bedank God vir hulle familie en die krag wat Hy hul elke dag gee.