021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Louise Ozrovech is die jongste dogter van Solly en Barbara Ozrovech en een van drie kinders. Gedurende die eerste vyf maande van haar lewe het sy drie operasies ondergaan, onder andere n 3-uur lange operasie om ‘n gedeelte van haar skedel in haar voorkop te verwyder wat drukking op haar brein veroorsaak het.

Haar ontwikkeling was stadig maar haar ouers het gedink dit was as gevolg van die operasies, tot hulle op 3-jarige ouderdom begin besef het daar is ‘n probleem.

Na verskeie toetse is bevind dat ‘n gedeelte van haar 9de chromosoom ontbreek en dat sy intellektueel gestremd is. Die dokters kon ook nie ‘n diagnose aan die tipe gestremdheid koppel nie want op daardie stadium was daar nie nog so ‘n geval in Suid- Afrika nie.

Skielik was hul as ouers gekonfronteer met baie vrae en min antwoorde. Waar sal sy skoolgaan en hoe berei hulle haar vir die lewe vorentoe voor?

Die pad tot dusver

Hulle het te hore gekom van die Cheré Botha skool vir voorskoolse intellektueel gestremde kinders en Barbara het vir 3 jaar, twee maal ‘n week vanaf Wellington, Bellville toe gery sodat Louise die skool soggens kon bywoon.  Louise het goed gevorder en was hulle as ouers goed voorberei vir die pad vorentoe.

 ‘n Traumatiese tyd het gevolg toe Louise egter moes laerskool toe gaan en vanaf  
7-jarige ouderdom in ‘n koshuis moes woon. Barbara wou met alle geweld nader trek sodat Louise uit die huis kon skool gaan, maar Gloria Botha, hoof van Cheré Botha het verduidelik dat ‘n mens nie vier mense se lewe kan ontwrig vir een persoon nie.

Sy was reg en Louise was baie gelukkig gedurende haar skoolloopbaan by Alta Du Toit. Elke naweek as sy huis toe gekom het, kon sy nie wag om die Maandag weer terug te gaan nie.

Louise het 18 geword het en moes aanbeweeg na ‘n volgende fase. Net nadat Sunfield Home in Wellington in 1991 gestig is het Chris Bennet vir Solly, haar pa, gekontak om op die Direksie te dien en aangesien hulle in Wellington woon was dit die ideale oplossing vir Louise om daar tuis te gaan..

Die tuiskoms

In Januarie 2002 het Louise haar tuiste gevind by Sunfield Home in Wellington en is dus al 18 jaar ‘n inwoner. Die personeel het haar gehelp om in te skakel en nuwe dinge te bemeester. Aangesien Louise se handvaardigheid nie goed is nie het die personeel altyd ‘n plan B gehad as plan A nie gewerk het nie. Sy wou ook graag in die waskamer werk en het ‘n wonderlike humorsin. As jy vir Louise sou vra hoe dit gaan by Sunfield Home, sal sy altyd sê baie goed en dat die kos ‘sooo’ lekker is.

Alhoewel Louise skolasties nie goed gevorder het nie, is haar kommunikasie baie goed. Sy is baie lief vir musiek, matknoop en legkaarte bou.Sy bou al 1000 stukke!

Louise en Barbara spandeer baie tyd saam. Hulle gaan fliek en besoek gereeld markte en Louise weet waar die lekkerste koffie en kaaskoek is! By dit alles weet haar ouers sy is gelukkig en versorg by Sunfield Home.

Die Ozrovechs glo dat gestremde kinders gekoester moet word en dat ouers van gestremde kinders moet aanhou vertrou dat die Here hul voortdurend van krag sal voorsien vir ‘n soms moeilike pad.