021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Zandri is 33 jaar oud en tans ‘n inwoner in Huis Liebenberg by Sunfield Home. Sy is gebore met ernstige breinskade en is van kleins af bloot gestel aan instansies wat haar as gestremde gehelp het, onder andere by Cheré Botha en ook by Alta Du Toit in Kuilsrivier tot 18 jarige ouderdom. Daarna was sy woonagtig by Alta Du Toit Nasorg vir 12 jaar.

Ongeveer twee jaar terug het haar familie besluit om haar oor te plaas na ‘n plek waar sy vir die res van haar lewe gelukkig kan bly en waar daar genoeg stimulasie vir haar sal wees. Haar ouers het by Johan Liebenberg, Sunfield se Voorsitter,  gaan aanklop vir hulp en hy het  hul aan Huis Liebenberg bekendgestel.

Zandri is nou al biejie meer as twee jaar ‘n baie gelukkige inwoner van Huis Liebenberg. Die persoonlike versorging deur Daisy Groenewald en haar span wat met soveel liefde, deernis en  onselfsugtige toegewydheid vr die inwoners sorg, is vir haar ouers van onskatbare waarde.

Sy is ‘n stil kind wat graag drukkies uitdeel, veral as sy wil hê dat daar iets vir haar gedoen moet word. Sy het hulp nodig met behoeftes soos aantrek, bad, eet en toilet gewoontes. Sy loop self, maar kan glad nie praat nie. Sy is baie lief vir musiek en geniet dit baie.

Haar ouers bly al die afgelope 36 jaar in Wellington en Zandri is hul enigste kind. Haar pa, Gerrit, vertel dat aangesien Zandri al van ‘n vroeë ouderdom by instansies geplaas is wat goeie ondersteuning gegee het, dit vir hulle as ouers die aanpassings makliker gemaak het.  Hy wil ander ouers aanmoedig om so gou moontlik hul gestremde kinders by die regte instansie te plaas waar hulle gelukkig  en selfstandig, volgens elkeen se behoeftes, kan bly en versorg word.