Die reën en vloedwaters van die afgelope maand maak ons almal meer bewus daarvan hoe moeilik dit soms kan wees om in die koue en nat weer te oorleef.
Verbeel jou nou jy moet jou bejaarde moeder, ‘n diabeet met albei bene geamputeer, in hierdie omstandighede versorg? Sonder ‘n vaste adres, jou hokkie elke keer verspoel as die reën kom. Tog doen jy dit omdat jy ‘n diep liefde vir jou moeder het en doen jy dit selfs al moet jy elke dag ook ander gestremde versorg…
Ons het verlede jaar gesels met Connie Fredericks, ‘n huismoeder by Sunfield Home. Haar positiewe gesindheid het ons toe al opgeval. Maar haar grootste wens was om vir haar gryse moeder ‘n dak oor haar kop te gee en met liefde na haar om te sien in beter omstandighede.
Connie vertel dat sy en haar familie baie rondgeswerf het van een hokkie na ‘n ander en gewoonlik in ander mense se agterplase gebly het. In 1999 het sy aansoek gedoen vir ‘n huis en intussen in ‘n wendyhuis gebly. ‘n Jaar later is sy meegedeel dat sy kwalifiseer vir ‘n huis, maar dat sy op ‘n lang waglys is.
Na amper 23 jaar het Connie se drome en wense nou uiteindelik waar geword en ons gesels weer met haar oor hierdie ongelooflike wonderwerk.
Sy het ‘n paar weke gelede ingetrek in haar nuwe huis en getuig hoe wonderlik dit vir haar is dat daar geen water meer deur die huis loop as dit reën nie. Sy het nog nie warm water nie, want sy moet nog aansoek doen vir ‘n warmwater geyser. Sy vertel met trots haar huisie het ‘n klein kombuisie en ‘n sitkamer, badkamer en 2 slaapkamers op met ‘n trap. Sy beplan om haar huis baie mooi in te rig, maar vir nou gebruik sy nog wat daar is. Die eerste item op haar wenslysie is ‘n 2-plaat gasstoof en ‘n klein TV vir haar moeder.
Connie het self intussen weer ouma geword en die baba woon ook by haar in die huis.
“My boodskap aan almal wat drome koester, veral oor ‘n huis, is dat julle moet vasbyt, glo en vertrou. Moet nooit in sak en as gaan sit en moed verloor nie. Daar sal uitkoms wees.”
Indien enige iemand graag wil bydra sodat Connie ‘n twee-plaat gasstofie en ‘n klein TV kan koop, kontak gerus vir riette@sunfieldhome.co.za