ONS BEGIN HIERDIE MAAND MET ‘N REEKS GETITELD: ONS SPESIALE INWONERS. DAAR SAL ELKE MAAND ‘N ONDERHOUD GEVOER WORD MET DIE OUERS VAN EEN VAN ONS INWONERS
David en Estelle, die ouers van twee inwoners by Sunfield Home, glo dat ouers van gestremde kinders moet leer om naby hulle kinders se harte te lewe, sodat hulle kan ontdek dat God se hart self in hulle ingeperkte liggame klop. Dat elkeen ‘n onontbeerlike geskenk en gawe van God aan die wêreld is en nie ‘n las nie. En dat ons hulle moet vergesel in hulle stryd om ‘n plek in die wêreld van mense te vind waarin hulle tot seën vir ander kan wees.
Ontmoet die Bothas
David en Esther is die middelste en jongste kinders van David en Estelle Botha. Hulle verskil drie jaar. Hul ouer suster, Jacqueline, is Engelse onderwyser by Hoërskool Grabouw.
Albei is as babas met Rubinstein-Taibe-sindroom gediagnoseer en het gesukkel om hul ontwikkelingsmylpale te haal. Dit is ‘n sindroom met verskeie kenmerke, o.a. intellektuele gestremdheid. Esther het ook ‘n spraakgebrek as gevolg van ‘n onderontwikkelde kaak en verhemelte en nou neusgangetjies.
Beide kinders moes dus intensiewe arbeids-en spraakterapie ontvang voordat hulle op 7 jarige ouderdom kon skool toe gaan. Alhoewel die laerskool op Darling regtig hul uiterste bes gedoen het om David en Esther te ondersteun en te beloon vir hul harde werk en gewilligheid, was dit in Standerd 2 (nou Graad 4) duidelik dat hoofstroom-onderwys te ‘n groot uitdaging vir hul spesiale behoeftes was.
Hul ouers het besef dat hul kinders spesiale aandag en onderwys benodig, wat tot ‘n vermoeiende en soms uiters frustrerende pad, van soeke na ‘n plek waar hulle maksimaal gestimuleer en opgevoed sou kon word, gelei het. ‘n Stryd waarmee baie ouers van gestremde kinders maar te goed kan identifiseer.
David, wat as oudste in hierdie proses die proefkonyn was, is deur talle evaluerings om te kyk waar hy geakkommodeer sou kon word. Al die spesiale skole wat sy ouers besoek het, het hom weggewys.
Begrip en die toekoms
Die pad tot begrip van waartoe die kinders werklik in staat was, was moeilik en na ‘n evaluasie by Stellenbosch Universiteit het ‘n sielkundige hul meegedeel dat hulle te veel van David verwag en dat hy reeds bo sy vermoë presteer.
David en Estelle kon geen plek vind waar hul kinders akademies gehelp kon word nie en daarom het Estelle, ‘n opgeleide musiekonderwyseres, besluit om hul met tuisonderrig by te staan eerder as om hulle verder aan ‘n skoolsisteem, wat net hul gebreke en tekortkominge sou beklemtoon, bloot te stel.
David het sy laerskoolonderrig tuis ontvang en is op aanbeveling van ‘n skoolsielkundige vir sy senior fase na die Weskusskool op Saldanha gestuur. Hier het hy die spesiale Standerd 8 (Graad 10) sertifikaat verwerf. Esther het dieselfde pad as hy geloop en drie jaar na hom ook haar skoolloopbaan voltooi.
Die aanpassing van ‘n droom
As gegradueerde mense in professionele beroepe het David & Estelle besondere drome vir hulle kinders gekoester en hul probeer grootmaak volgens die standaarde en waardes van ‘n kompeterende samelewing waarin hulle in die toekoms sou moes oorleef.
Soos enige ouers het hulle bly hoop dat hul twee kinders iewers in die arbeidsmark ‘n plek sou kon vind ten einde ‘n selfstandige en selfversorgende lewe te kon leef. Dit het egter toenemend vir hulle duidelik geword dat hierdie moontlikheid baie skraal was.
Gestremdheid het ‘n nuwe wêreld vir hulle oopgesluit, een waarin ‘n mens se waarde nie deur jou bekwaamheid en vermoëns bepaal word nie, maar deur jou blote menswees.
David en Esther het ook hul ouers geleer om hul eie onvermoë raak te sien en daarmee vrede te maak. Hulle is baie meer tuis in ‘n gebroke wêreld (die enigste wêreld wat daar is!) as dié van perfeksie en bekwaamheid.
“David en Esther is gawes van God aan ‘n wêreld vol mense wat verwoed wegvlug van alles wat ruik na swakheid, mislukking en broosheid. Hulle is as’t ware ‘n spieël wat die lewe vir ons ophou, sodat ons ons eie swakheid en gebrokenheid in hulle s’n kan raaksien en dan kan leer om daarmee vrede te maak. Deur hulle leer ons liefdevolle God en Here ons wat dit prakties beteken dat God se krag in ons swakheid volbring word.” – David Botha
‘n Goeie vriendin het hul van Sunfield Home vertel en David is dadelik toegelaat as inwoner – met die onderneming dat hy vir sy ouers sal wys of dit die plek is waar hy moet wees en wil woon. Die destydse bestuurder, Dawie de Villiers, het hulle ook die versekering gegee dat hulle ‘n plek vir Esther sal reserveer as sy die dag klaar is met haar skoolopleiding. Magda Viviers, mnr De Villiers se opvolger, het die belofte gestand gedoen en Esther het drie jaar later by David aangesluit.
Die lewe by Sunfield Home
Na ‘n periode van aanvanklike onwilligheid het David uiteindelik ingestem om vir ‘n proeftydperk in Maraisstraat saam met ‘n paar ander vriende te gaan woon. Met ‘n opvolg besoek aan Sunfield Home het Mnr de Villiers sy ouers daarvan verseker dat David soos ‘n handskoen (sal) inpas. (haal “sal” uit)
Beide David en Esther het by Sunfield Home tot rus gekom en geleer om te ontspan. Hulle is deurgaans in hul lewe uitgedaag om in ‘n kompeterende wêreld tred te hou en te presteer – net om maar elke keer te ervaar dat hulle deel uitmaak van die agterhoede en dikwels laaste kom.
By Sunfield Home was dit anders. Hier kon hul net hulself wees en is aanvaar net soos hulle is. Hulle is opgeneem in ‘n netwerk van verhoudinge wat gekenmerk word deur warmte, nabyheid en koestering.
Sunfield se styl en etos het hul ouers die gemoedsrus gegee dat hul kinders uiteindelik ‘n tweede tuiste gevind het wat hul ouerhuis se waardes deel.
Die uniekheid in elke mens
David en Esther is albei baie sensitief vir die atmosfeer in verhoudings en floreer in ‘n omgewing van liefde en vrede. Hulle is ook albei baie lief vir musiek en het ‘n wye verskeidenheid wat in hul smaak val. Albei is diep gelowig en geniet dit baie om uit die Bybel te lees en daaroor te gesels.
Gedurende sosiale byeenkomste beland hulle egter dikwels op die agtergrond omdat hulle nie by die spoed van ander mense kan byhou wat maklik en vinnig praat nie. Hulle leer ons almal egter om stadiger en minder kompeterend en dominerend te leef, sodat hulle kan byhou en kan kans kry om hulle unieke en noodsaaklike bydraes te maak.
David is die mees tevrede mens wat sy ouers ken (behalwe as die krag afgaan as hy met sy skootrekenaar besig is!) en volgens hom gaan dit altyd goed. Esther is ‘n sonskyn- en drukkie-kind. Sy lag maklik en met oorgawe. Sy is ook hul hulpvaardigste kind. Haar spraakgebrek veroorsaak egter dat ander haar nie altyd verstaan nie, wat vir haar frustrerend is.
Die slotsom
Die lewe is soms swaar en ons moet dit aanvaar. Om ‘n kind (kinders) te ontvang wat met ‘n gestremdheid leef is nie ‘n vloek of ‘n straf van God nie. Die uitdaging lê daarin om die uniekheid van so ‘n lewe te aanvaar en daarmee vrede te maak. Alle kinders stel ouers voor uitdagings – nie net kinders met die uitdaging van gestremdheid nie.
David en Estelle gee alle eer aan die Here wat hulle gehelp het om nie moed op te gee nie en wat op die beskikte tyd, die regte hulp gestuur het. Hulle bring ook eer aan David en Esther wat tot vandag toe kans sien om hulle te vergewe vir hul foute en kies om vir hulle lief te wees.
“Ons het geleer dat dit God self is wat in die gestalte van ons drie kinders by ons twee kom intrek het. Sou ons die gestalte van God in een van ons kinders miskyk of misken, sou ons dit ook nie in ander of onsself kon raaksien nie.”