021 873 5038 | 021 007 0034 elmarie@sunfieldhome.co.za

Francois is sy ouers se tweede kind, een van vier kinders – sy ander broers en susters is neuro-tipies. Wanneer jy sy ma, Adel, uitvra oor die verlede is sy dit eens dat sy slegs dankbaar is dat haar kind met sy sonskynglimag deur al die nare oomblikke gekom het en dat sy daarop wil fokus, tog vertel sy ons van hul pad.

Sy onthou dat sy met Francois ‘n normale swangerskap gehad het en ‘n goeie geboorte sonder pynverligting, dit was slegs sowat 30 minute tot Francois in die staatshospitaal Rob Ferreira in Nelspruit sy eerste lig aanskou het! Sy is reeds die volgende dag huistoe, maar twee dae later weer terug  – want Francois kon nie borsmelk verteer nie en ook nie enige ander tipe melk nie, ten spyte van sy  pediater se verskeie pogings.

Hy is eindelik verwys na Hendrik Verwoerd hospitaal in Johannesburg. met ‘n gevolglike lang opdraande pad en verskeie hospitaalopnames. Francois was op daardie tydstip 3 maande oud met ‘n gewig van slegs 2.75kg.  Die dokters het sy ouers voorberei dat hy sou sterf en indien hy sou deurdruk, hy nooit sal kan kruip of loop nie en ‘n baie swaar lewe sal hê.

Maar soos enige ma van ‘n kind met spesiale behoeftes, het Adel geweier om op te gee. Sy hom laat ontslaan, huis toe geneem en hom beesmelk en mieliepap gevoer en hy het uiteindelik begin gewig optel. Sekere aspekte rondom sy vordering het haar egter steeds gepla en hul het as gesin besluit om van Nelspruit na Langebaan te verhuis sodat hy na die Rooikruis Kinderhospitaal geneem kan word.

Tydens sy besoek aan die Rooikruis Kinderhospitaal het hul bevind dat hy probleme met sy sig het en hy het ‘n bril gekry.  By die Chirurgie afdeling het hul aanbeveel om sy heupe te breek en dit in gips te plaas sodat dit reg kan aangroei en sy voetjies ook in gips te plaas omdat dit na binne toe draai. Die genetiese afdeling het verdere toetse versoek omdat sy geval uniek was en hy simptome van verskillende sindrome getoon het en dit ‘n vaste diagnose bemoeilik het.

Sy ouma het egter vir sy ouers gevra dat hul dit moet heroorweeg om haar kleinkind aan al die mediese toetse te onderwerp en hom los sodat hy ‘n kind kan wees en kan lewe. En dit is presies wat hulle gedoen het! Tot vandag toe is sy nie daaroor spyt nie!

Adel en Francois se pa is geskei, maar sy is weer getroud met Andries Botha – ‘n man wat ‘n fantastiese pa vir haar kinders is en hul aanvaar en ondersteun asof hul sy eie is!

Elke oggend stuur Francois getrou vir sy Pappa Oom Andries ‘n boodskappie, later die middag sal hy vra: “Wat maak pappa nou”? In die aand vra hy “Wat het Pappa geëet” en net voor slapenstyd sal hy vir sy ma en sy Pappa Oom Andries ‘n nagsê boodskappie stuur.

Adel het van Sunfield Home te hore gekom by Alta Du Toit Skool en Francois se aansoek is in Desember 2020 gefinaliseer, waarna hy toegelaat is tot Sunfield Home op 11 Januarie 2021. Francois vertel vir almal Sunfield Home is sy huis en dat hy net by sy Pappa Oom Andries/Mamma se huis en Pappa Oom Danie se huis kuier. Die personeel is almal so ondersteunend en liefdevol en offer regtig baie op deur al die moeite, tyd en toewyding wat hul aan Sunfield se inwoners wy.

Francois is ‘n baie netjies en pligsgetrou en is afhanklik van sy roetine.  Hy is ‘n baie liefdevolle en borrelende persoon.  Hy sal altyd as hy mense raakloop, of hy hulle ken of nie, opmerk dat hulle mooi lyk, vir hul drukkies gee en onmiddelik met hulle begin gesels.  Hy is ook baie lief vir diere, hou van bak en is nooit te besig om gou-gou vir mamma of pappa Andries te help met takies nie. As hy tuis kuier, sal hy soggens vroeg opstaan, self sy bed opmaak, tande borsel en sy gesig was. Hierna groet hy sy Pappa Andries en daarna maak hy seker sy boeties en sussies is wakker vir skool voordat hy die budjies versorg.  Soos ‘n polisieman gaan speur hy dan sommer ook of hul kamers netjies is en of hul tande geborsel is! Sodra hul oppad skool toe is, sal hy saam met Tannie Anita help met takies rondom en in die huis. Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesiggie en het nog nooit leuens vertel nie.

Sy ma vertel selfs die verpleegsters is vir Francois spesiaal.  Hulle het ook nog nooit enige klagtes van Francois gehad nie en het altyd net mooi terugvoering gegee wat sy ouers baie trots maak. Hy vertel van Oom Handré en al die grappe wat hul maak as hy in die kombuis saam met hulle werk en hy is net so lief vir sy tannie Dora wat sy “Sunfield huismamma” is.

Elke dag wat sy ma met Francois praat –  sprankel sy oë en glimlag hy van gelukkigheid oor sy huis – Sunfield Home.  Dit is enige mamma se droom om te weet haar kind is gelukkig by ‘n plek waar hy vir die res van sy lewe kan pandeer en dit gee ongelooflike gemoedrus dat indien hul as ouers iets oorkom hul kind steeds gelukkkig, geliefd en goed versorg sal wees.

Adel borrel oor as sy oor haar kind praat en sê kinders met ‘n gestremdheid is ‘n absolute seën.  Wanneer sy moedeloos raak onthou sy dat haar kind altyd onder haar vlerk sal wees en nie ‘n slagoffer sal word van ander negatiewe elemente soos groepsdruk en substansmisbruik  nie.

Nie elke dag was maklik nie en die toekoms het haar soms baie laat twyfel. Vandag vra sy “Hoe op aarde het ek dit reggekry om sover te kom sonder om op te gee?”

Sy glimlag, want haar kind ken die Here en hy is gelukkig. Al wat hierdie spesiale mensies van ‘n mens verwag is tonne liefde en aanvaarding.

Daar was tye wat sy ouers baie swaar gekry het, maar vanaf sy geboorte het Adel se ouers hul altyd bygestaan, ten spyte van die feit dat hulle dit ook nie breed gehad het nie. Sy beskou haar ma as haar steunpilaar – mens se familie is baie belangrik in hierdie tye. Tannie Christine Mouton is ‘n ander weldoener vir wie hul nooit genoeg kan dankie kan sê nie.

Tans dra hul finansieel self die maandelikse fooie van Francois, maar al is tye swaar, weet hul hul kind is gelukkig en dit maak elke sent die moeite werd.