“Rory is ons skaduwee en ons anker aan realiteit. ‘n Herinnering waaroor die lewe eintlik gaan.  Ons hou ons koppe maklik hoog ten spyte van uitdagings, soms met meesterlike inspanning, maar ons kom daar.”

Rory (30) is reeds 12 jaar ‘n inwoner van Sunfield Home en is ‘n volwassene met Down Sindroom. Hy het grootgeword in Kimberley, skool gegaan by Jannie Brink, ‘n skool vir leerders met Outisme en Downsindroom en sy ouers woon tans aan die Weskus. Hy is baie verknog aan sy familie en gaan dus baie gereeld huis toe.

Hy is ‘n groot terggees en omdat almal hom nie altyd verstaan nie, maak hy soms vyande! Sy grootste begeerte is egter om ‘n permanente meisie te hê, maar sy standaarde is hoog!  As uiters liefdevolle mens kry hy almal gou jammer, maar hy is ook soms baie hardkoppig wat almal rondom hom frustreer. Hy is nougeset oor sy roetine en sy ouers word dus net Saterdagaande toegelaat om by die huis te braai anders is hy hewig omgekrap!

Rory se bynaam op die dorp is “Kleindok.” Almal ken hom en groet hom gedurig waar hy ook al gaan. Hy dink hy is ‘n dokter en loop met ‘n stukkende stetoskoop om sy nek rond. Hy doen saalrondtes saam met sy pa en kom selfs saam spreekkamer toe!

Sy ma, Rozaan vertel dat hy hul gesin se lewens ondeurgrondelik verryk het en word beskou as die gom wat hulle bymekaar hou en sin aan hul bestaan gee.

Niks anders is werklik so belangrik soos die liefde nie. Sy broer en suster verafgod hom en sal ander vermorsel wat hom afknou. Maar as gestremde plaas sy beperkings ook soms stremming op ander. Sy ouers vertel dat as ekstreme, haastige, besige en ongeduldige mense,hulle al baie by hom moes leer.

Rozaan se boodskap aan ander met gestremde kinders is om te onthou dat God ons nie verniet louter nie. Sy het deur Rory haar doel in die lewe gevind en is ook daardeur gered. Sy glo dat ons nooit bo ons vermoëns getoets word nie en die voordele van ‘n gestremde kind by verre die nadele daarvan oorskry.

facebook